Thursday, March 3, 2011

Hoe gaan dit met die vroue en kinders in jou streek?

Maak oop jou oë vir geweld teen vroue en kinders, is die boodskap wat ek kry uit die SAPD se jaarlikse veldtog, 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teenoor Vroue en Kinders.

Goed. Ek ondersteun juis lankal waar moontlik ‘n vriendin wat betrokke is in ‘n hofsaak om haar kinders te beskerm. Ek onderneem voorts om tydens die velddtog deel te neem aan ‘n kunsuitstalling oor die onderwerp.

Ná ‘n dag van kopkrap is ek moedeloos, teen slaaptyd depressief. Toe ek die volgende oggend my oë oopmaak, vertel ek my naaste dat ek sonder twyfel NIE aan hierdie geleentheid gaan deelneem nie. Teen die aand is ek darem weer fluks besig om ‘n paar ingewings in kuns te verwerk.

Dit is ‘n ongemaklike onderwerp.

Ek ontvang per epos ‘n kennisgewing van ‘n kreatiewe werksessie vir slagoffers van gesinsgeweld wat gedurende die veldtog in Piketberg gehou word. Een van die kunswerke wat reeds vir die genoemde kunsuitstalling ingedien is, word as illustrasie gebruik: Die dogtertjie kyk met ‘n beteuterde gesiggie na my – en ‘n trek van harde bitterheid om die mond wat jy nie kon droom om by ‘n kind te sien nie. Met hierdie uitbeelding het die kunstenaar daarin geslaag om intense emosie weer te gee wat op baie vlakke tot mense kan spreek.

Nou is al die kunstenaars wat deelneem se werke al in die gallery uitgestal, die werksessie vir slagoffers van gesinsgeweld is so pas verby. Die 16 dae-veldtog eindig die einde van die week. Ek wil nou skryf en vertel van hierdie dinge en ek soek op internet die Afrikaanse bewoording van die veldtog. Ek kom af op ‘n gedig wat tydens die veldtogtydperk in 2007 deur ene Zymrly gepubliseer is. Die uittreksel wat hier volg, kon ‘n beskrywing gewees het van die kunswerk wat ek hierbo genoem het:

“Jou oë slaan in twee
Apologie aan die kunstenaar:
Ek het vergeet wie dit geskilder het.
groen kolle deur die mis
soos 'n tier in die kollig
van die jagter.

En ek kom agter die koue
is jou vrees vir wat
in die nou voor jou lê
met woedende verwyt.

(http://www.woes.co.za/gedigte/vertoon/21641_16_dae_van_aktivisme.htm).

Wat maak jy by die aanskoue van sulke verwyt as jy nie eens na die probleem wil kyk nie, wat nog te sê hulp wil verleen. Gesinsgeweld is ‘n netelige kwessie. Jy raak net betrokke as jy nie anders kan nie. Die SAPD het in al sy streke programme aangebied om die publiek bewus te maakvan gesinsgeweld en slagoffers van gesinsgeweld in te lig dat hulp beskikbaar is en hoe en waar hulle dit kan kry. Piketberg Polisie se kommunikasiebeampte, konstabel Ghirswin Muller, werk met gesinsgeweld. Anthea Delmotte, kunstenaar en eienaar van die AntheA Delmotte Kunsgaleryop die dorp, het met hom oor die veldtog gaan gesels en by die Polisie se program ingeskakel deur ‘n die kunsuitstalling oor gesinsgeweld gedurende hierdie tydperk te hou. Tien kunstenaars, van Piketberg, Velddrif, Aurora, Moorreesburg en Kaapstad, het deelgeneem.

"Handle with Care" (Susan Kemp)
Daar is ook besluit om die werksessie op Maandag, 6 Desember 2010, by die kunsgalery te hou vir vroue en kinders wat slagoffers van gesinsgeweld is. ‘n Totaal van dertien vroue en kinders het onder leiding van konstabel Muller en Anthea Delmotte daaraan deelgeneem. Almal het met klei gewerk en het deur die loop van die dag besin oor vrae soos “Wat van vergiffenis?” en “Het jy nog ‘n gesig?”.

Ek het agterna met konstabel Muller gesels. Vroue wat onder gesinsgeweld ly, het ondersteuning en inligting nodig. Hulle het dit in die informele en veilige omgewing van die werksessie gevind. Die Polisie probeer ook deurgaans om slagoffers met die nodige inligting te bereik, maar die waarde van die informele werksessie het vir hom daarin gelê dat die vroue eerstehands by mekaar inligting, raad en begrip kon kry. Op ‘n dorp soos Piketberg, waar nie ‘n ondersteuningsgroep vir slagoffers van gesingsgeweld bestaan nie, het die geleentheid ‘n waardevolle leemte gevul. Hy sê ‘n mens kon in die kleiwerk sien dat slagoffers aspekte van beskerming uitgebeeld het en baie van die werk het na kinders verwys.

"Hands off our Children"
(Susan Kemp)
Vir Anthea Delmotte was die doel van die werksessie nie dat mense mooie kunswerke maak nie, maar eerder om die slagoffers die geleentheid te gee om hulself vryelik uit te druk. Een van die vroue, wat aan erge sielkundige mishandeling blootgestel was en mediese en sielkundige behandeling ontvang, het vertel dat haar gemoed verdraai en verward voel. Hierdie aspekte het duidelik in haar kleiwerk na vore gekom. ‘n Ander vrou was ‘n paar dae vóór die werksessie erg misbruik. Sy het ‘n eenvoudige maar hartroerende gesig uit die klei gemaak. Een van die kinders wat deelgeneem het, het die gedagte “Love our children, don’t abuse them” uitgedruk.

Omdat die geleentheid duidelik so baie vir die betrokkenes beteken het, sou konstabel Muller graag wou sien dat soortgelyke geleenthede gereeld vir slagoffers van verkragting gehou word.

Hy sê vroue bly in siklusse van geweld vasgevang omdat hulle by ‘n man bly ter wille van sy status of omdat hulle nie die vermoë of selfvertroue het om na hulself en hul kinders om te sien nie. Op die lang duur word hul selfbeeld so geskaad dat hulle nie in hulself glo nie en nie en ook nie meer vertroue het in die beeld wat hulle na buite uitstraal nie. Hulle verloor hul identiteit en voel dat hulle nie meer mooi is of waarde het nie.

"Lewenslank" (Susan Kemp)
By hul vyfde jaarlikse Vroue-padblokkade wat tydens die bewusmakingsveldtog gehou word, was die uitgangspunt van Piketberg Polisie dus om vroue in te lig dat hul plek nie net in die kombuis is nie. Vroue wat op Vrydag, 3 Desember 2010, verby Piketberg gery het, is deur die vroulike personeel van die plaaslike Polisie, Korrektiewe Dienste, ambulansdiens, vloot, brandweer en die munispale en provinsiale verkeersdienste gestop en ingelig dat die samelewing hulle nodig het en dat daar baie beroepe en geleenthede vir vroue bestaan. Die blokkade is geborg deur plaaslike ondernemings, naamlik Boland Spar, Shoprite, Sweet Mania, Spur en Winkelshoek Wynkelder.

Die webtuiste www.nosyrosy.ca.za, wat onder andere die Weskus en omgewing dek, het ook tydens die veldtog ruimte aan die slagoffers van gesinsgeweld afgestaan. Op die werf kan jy gaan bie op twee skilderye, geskenk deur Anthea Delmotte, wat opgeveil word ten bate van kinders en vroue.

"Free the Ignorant Prisoner" (Anthea Delmotte)
Die verkope van die skildery “Dirigent, Kaapstadse Simfonie-orkes” vorm deel van ‘n projek in samewerking met Piketberg Toerisme se Gemeenskapsontwikkelingsprogram en die fondse sal gebruik word om geskenke te koop vir die minderbevoorregte kinders van Piketberg en die Weskus. Die ander skildery, “Free the Ignorant Prisoner”, is te koop ten bate van Piketberg Polisie se trauma-eenheid.

Terwyl ons gesels, noem ek aan konstabel Muller dat ek toevallig besig is om ‘n boek te lees oor ‘n vrou se pad uit haar persoonlike hel na ‘n nuwe lewe. The Fly Dancer is geskryf deur Catherine Jensen. Dis op ware gebeure geskoei en die karakter het vanweë geestelike aftakeling ook gevoel dat sy nie meer mooi is nie en dat sy nie meer haar ou self onthou nie (geen wonder een van die vrae by die werkswinkel was “het jy nog ‘n gesig” nie).

Haar vastrapplek uit haar omstandighede was ‘n besluit om erens te begin: Sy sou begin oefen en haar liggaam weer mooi maak soos wat dit in die verlede was. Toe sy op hierdie manier begin om iets baie klein aan haar omstandighede te doen (eers het sy net gaan stap), was haar voet op die pad na herstel en het sy al hoe meer veld gewen. Nou vertel ek van haar verhaal van oorwinning, van ‘n pragtige mens wat haar eie boek gepubliseer het.

Ek sukkel om die boek te lees, want ek kan nie daarmee identifiseer nie. Ek voel half ongeduldig met die karakter. Vir wat sukkel sy so, hoekom los sy nie net die vark nie. Nou trek ek waar sy haar voet goed op die pad na herstel het en ek lees sommer makliker. (Ja-nee, dis ‘n ongemaklike onderwerp…).

Ek sê vir konstabel Muller dat ek gelukkig was dat sulke ervarings my gespaar was. Ek was lank gelede ‘n paar jaar getroud… Toe kom dit terug: Hy het so eenkeer ‘n jaar te veel gedrink en sy humeur dan liederlik verloor. Die vierde keer was vir my die laaste keer, toe ek die oggend na die laaste drama blou kolle aan my arm opgemerk het. By die vorige geleenthede het hy my net uitgeskel. Ek het nie gewag om te kyk of dit beter sal gaan nie, want dit het reeds jaar vir jaar slegter gegaan wanneer hy so per geleentheid sy humeur verloor.

Ek het vanoggend hier in die stoel kom sit om een of twee paragrawe oor die werkswinkel en die padblokkade te skryf voordat die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders verby is; ek het die galery gebel om uit te vra oor die werksessie, met konstabel Muller gesels; weer gebel, nog inligting gevra. En nagedink.

"PoeletjieVerdriet" (Susan Kemp)
Ek besef deur die loop van die dag dat ‘n mens net jou hand kan uitsteek na die foon, na die boek op die koffietafel kan reik of ‘n bietjie in die verlede kan krap om gevallestudies op te rakel wat elkeen ‘n boek kan volmaak. Laat gaan jou vinger en gedagtes oor die name van vriendinne en kennisse in die adresboekie wat in die lessenaarlaai lê en daar is minstens een vir elke letter van die alphabet. Ek kan straat-af ry of ‘n draai op die buurdorp gaan maak en die lys van slagoffers word net langer en langer – dit net onder die mense wat ek ken.

"Caught in the Dream"
(Susan Kemp)
Ek het vanoggend oor ander se leed begin skryf en selfs by my eie ou wonde ‘n draai gemaak. Nou is dit al lank na toemaaktyd en dis net my lig wat nog brand. Dit was ‘n lang dag en ouderdom, siekte en teëspoed het terselfdertyd gewoed in die lewens van sommige van my geliefdes. Op hierdie tydstip is almal veilig, al is dit nie teen roes en mot en die tyd nie. My vriendin en haar kinders wat al soveel jaar dit regkry om misbruik op ‘n afstand te hou, slaap ook veilig en sit more weer hul daaglikse stryd om veiligheid voort. Wanneer ek nou agter my naaste se rug gaan inkruip, is dit met die wete dat hy en sy geliefdes ook al in ‘n stryd teen geweld en misbruik was.

Dit raak almal.

1 comment: